Die Fakulteit Teologie was onder leiding van prof Risimati Hobyane as waarnemende uitvoerende Dekaan van die Fakulteit. Hy verwelkom u by ons fakulteit in die boodskap hieronder.
.jpg)
Prof Risimati Hobyane
Waarnemende Uitvoerende Dekaan
Beste studente en besoekers,
Hartlik welkom en dankie dat u ons webwerf besoek het. Alhoewel die Fakulteit Teologie sy wortels in die Gereformeerde tradisie het en gegrond is op die gesag van die Bybel, erken en omhels ons fakulteit die ryk diversiteit van teologiese en godsdienstige perspektiewe wat in Suid-Afrika en regoor die wêreld gevind word.
Ons fakulteit is geleë op al drie NWU-kampusse (Potchefstroom, Mafikeng en Vanderbijlpark) waar ons 'n verskeidenheid voorgraadse kwalifikasies in die kontak- en afstandmodaliteite aanbied.
Studente word toegerus vir kerkbediening, pastorale berading, jeugwerk, sendingwerk, as evangeliste, Bybelse argeoloë, joernaliste, opvoedkundiges, outeurs, vertalers en vir ander loopbane. Op nagraadse vlak bied ons verskeie meesters- en doktorsgrade aan studente regoor die wêreld in alle teologiese studierigtings, sowel as antieke tale, kulture en teksstudies.
Ons toegewyde akademiese personeel lewer uitstekende navorsingsuitsette in die vorm van artikels en boeke, en ons skakel aktief met belanghebbendes en die gemeenskappe waar ons woon en werk.
As bestuurs-, akademiese en ondersteuningspersoneel streef ons na uitnemendheid in ons onderrig en leer, navorsing en innovasie, en gemeenskapsbetrokkenheid.
Visie & Missie
Die Fakulteit se visie
Die visie van die Fakulteit Teologie is om die vakkundigheid van Teologie op ʼn Reformatoriese grondslag na te streef; dit handhaaf die oortuiging van eenheid tussen geloof en wetenskap, en sien ʼn noue verband tussen Teologie en Kerk, vanuit die perspektief van die Koninkryk van God met ʼn "glokale" fokus op die verskillende kontekste wat die alledaagse lewe beïnvloed. Verder streef die Fakulteit met sy fokus op Antieke Tale na ʼn wetenskaplike studie van Antieke Tekste in soverre dit gemoeid is met die linguistiese, sinchroniese en diachroniese resepsie van die tekste.
Die Fakulteit stel teologiese onderwys in die vooruitsig wat ʼn lewegewende proses en ervaring bied. Teologiese onderwys behoort ʼn lewenslange effek te hê deurdat dit die student se “lewensverwagting” verbreed en verdiep om sinvol en lofwaardig in gemeenskappe te werk en te leef. Dit is die uiteindelike bestemming van alle studente wat vir enige kwalifikasie in Teologie ingeskryf is. Hierdie reis moet duidelik en meetbaar beliggaam word in vier generiese bewysgebaseerde uitkomste wat eties en maatskaplik regverdigbaar is. As ʼn stel vaardighede en bevoegdhede sluit dit die volgende in:
- Geïntegreerde en bewese kennis
- Doeltreffende kommunikasie
- Diensleierskap
- Ondersoekende probleemoplossings
Die Fakulteit se Missie
Alhoewel die fakulteit 6 doelwitte in gedagte het as deel van sy missie vir Onderrig & Leer-sukses, kan dit alles in hierdie een missie saamgevat word:
Die Fakulteit se missie is om teologiese wetenskap vanuit ʼn Reformatoriese grondslag te bou en predikante, pastore, jeugwerkers, sendelinge en kerke toe te rus met tasbare vaardighede (kennis en implementering daarvan) sowel as ontasbare vaardighede (vermoë om verskillende wêreldbeskouings te betrek en aan te pas by verskillende en veranderende kontekste) gegrond op Bybelse waarhede om beginselvaste leierskap binne verskillende kontekste en gemeenskappe te verskaf. Verder streef die Fakulteit Teologie, met sy fokus op Antieke Tale, na ʼn wetenskaplike studie van Antieke Tekste in soverre dit gemoeid is met die linguistiese, sinchroniese en diachroniese resepsie van hierdie tekste.