Fokus: Hierdie subprogram fokus op navorsing en benaderings wat die publieke teologie, praktiese teologie en kerklike/ Christelike transformasie-/ ontwikkelingsbenaderings integreer. Dit weerspieël ook hoe die kerk 'n transformatiewe-/ ontwikkelingsrol kan speel as deel van die burgerlike samelewing, en dit op ʼn wyse waarin beginseldenke en ʼn konteks van ʼn veranderende wêreld in verhouding staan. Publieke Praktiese Teologie ondersoek wat dit beteken om 'n kerk (dws operatiewe ekklesiologie) in Suid-Afrika, Afrika en die wêreld te wees in die lig van die heersende uitdagings.

Subprogramleier: Prof Vhumani Magezi

e-pos: vhumani.magezi@nwu.ac.za

Doelwitte: 

Die uitdagings wat mense in baie gemeenskappe in Afrika en wêreldwyd ervaar, vereis veelvuldige en innoverende antwoorde. Daar is toenemende besorgdheid dat die huidige teologieë en benaderings in Suid-Afrika en Afrika onvoldoende is om die Afrika-uitdagings soos diktatoriese leierskap, politieke en etniese konflikte, geweld, homofobie, xenofobie, migrasie en verplasing, swak dienslewering, swak gesondheidsstelsels en beperkte toegang tot gesondheid, aan te spreek. In so 'n situasie fokus profetiese publieke teologie op 'n visie van 'n verloste en nuwe gemeenskap (habitat) van mense met nuwe gewoontes (habitus) wat uitdagende publieke kwessies van hul tyd betrek. Publieke teologie handel oor die rol van Christene in die samelewing sowel as die teologiese refleksie van die samelewing. Publieke teologie is meer as net blote teologiese refleksie. Dit behels die lewering van teologiese oortuigings en waardes. Dit handel oor die lewe self. Dit behels die Christendom wat uit die kas breek om sigbaar  by die publiek betrokke te wees; dit wil sê, die agora. Publieke teologie is nie geïnstitusionaliseerde teologie nie, maar dit is die teologie wat in gesprek tree met sosiale situasies en menslike kontekste. Publieke teologie is nie 'n vervanging of herbenaming van praktiese teologie nie. Inteendeel, praktiese teologie vind sy uitdrukking in publieke teologie. Publieke teologie fasiliteer dialoog tussen die teologiese diskoerse, en oorvleueling met kerklike en kontekstuele teologieë. Die fokus op Publieke Praktiese Teologie is om teologie en die geloofsgemeenskap aan te moedig om te besin en betrokke te raak by belangrike sosiale kwessies. Dit behels die hande vat met ander teologiese paradigmas wat poog om holisties-uitdagende kwessies in die samelewing aan te spreek. Daarmee word opgemerk dat die kerk 'n missie het. Die kerk as gemeenskap van gelowiges het ʼn individuele sowel as ʼn korporatiewe roeping. Die kerk het 'n verantwoordelikheid om die boodskap van verlossing aan die mensdom te bied, en om almal en elke domein te transformeer wat die voortdurende koms van die koninkryk van God belemmer.