Die Fakulteit Teologie van die Noordwes-Universiteit beoefen Teologie as wetenskap op Reformatoriese grondslag. Dit sluit in die erkenning dat die geskrewe Woord van God, die Bybel, onder die inspirasie van die Heilige Gees ontstaan het, en dat dit gesagvol is. Op bogenoemde grondslag word alle (insluitend eie) paradigmas voortdurend krities en Reformerend bestudeer, en word personeel en studente van ander teologiese oortuigings wat hierdie Reformatoriese grondslag en inklusiewe benadering respekteer, geakkommodeer.

 

Die Fakulteit Teologie van die Noordwes-Universiteit stel homself op ‘n Reformatoriese grondslag. Hiermee erken hy sy historiese bande met die Reformasie van die 16de en 17de eeue, asook met die Teologiese Skool van die GKSA en met die PU vir CHO in die tydperk van 1869 tot 2004. Die Reformatoriese grondslag van die Fakulteit sluit in die erkenning dat die geskrewe Woord van God, die Bybel, onder die inspirasie van die Heilige Gees ontstaan het, en dat dit gesagvol is. In die beoefening van Teologie as wetenskap erken en respekteer die Fakulteit Teologie die Reformatoriese beskouing oor God en oor die geskrewe Woord van God as God se besondere openbaring. Die Bybel as God se besondere openbaring, naas sy openbaring in die skepping, is die objek van wetenskaplike ondersoek. Onderrigleer, navorsing en toepassing van deskundigheid vind hieroor en in die lig hiervan plaas, onder die verligtende werking van die Heilige Gees. Die koningskap van God word vanweë sy besondere sentrale aksent en betekenis in die Bybel as rigtinggewende basis beskou waarop Teologie beoefen word.

 

Hierdie Reformatoriese grondslag en etos sluit verder in ‘n voortdurende analitiese, kritiese en Reforme­rende wetenskaplike ondersoek van alle (insluitend ons eie) paradigmas, die bestudering van ander teologiese paradigmas en tradisies, asook die akkommodering van personeel en studente van ander teologiese oortuigings wat die Fakulteit Teologie se Reformatoriese grondslag en inklusiewe benadering respekteer.

 

Toepassing van die grondslag

Met sy wetenskapsbeoefening stel die Fakulteit hom ten doel om binne die eie aard van die Teologie diensbaar te wees aan die kerk en samelewing, nasionaal sowel as internasionaal – deur die opbou van die Christelike geloof, die reformasie van die kerk, en die morele vernuwing van die samelewing. Derhalwe word hier, soos ooreengekom met bepaalde kerkgemeenskappe, teologiese onderrig en toerusting gebied wat aan hoë akademiese standaarde voldoen. Ooreenkomstig die beleid van die NWU word kwalifikasie-programme gebied aan diegene wat hulle as professionele teoloë wil bekwaam, of teologiese en/of ‘n klassieke akademiese toerusting nodig het vir die beoefening van ander beroepe, soos onderwysers, beraders, psigoloë en navorsers. Die Fakulteit aanvaar verder sy verantwoor­delikheid om in die belang van die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse samelewing, Reformatoriese perspektiewe te bied en ‘n relevante bydrae te lewer ooreenkomstig die behoeftes en nood in die samelewing, en op grond van die kundigheid van sy navorsers, volgens die navorsingsbeleid van die Fakulteit.

 

Die Fakulteit se nasionale en internasionale betrekkinge, en sy besondere bande en samewer­kingsooreenkomste met ‘n verskeidenheid teologiese inrigtings asook met individuele teoloë wat in ander teologiese tradisies staan, getuig van sy wetenskaplike openheid, inklusiwiteit en kritiese ingesteldheid. Die Fakulteit Teologie stel ‘n premie op gereëlde nasionale en internasionale, asook professionele assessering en evaluering van die akademiese standaard en relevantheid van die Teologie wat in die Fakulteit beoefen word en wat in sy kwalifikasieprogramme vergestalt word.

 

Die Fakulteit se beoefening van Teologie en uitoefening van onderrigleer en navorsing is aanpasbaar en oop vir kritiek, en vir effektiewe en relevante veranderings en ontwikkelings. Hierdie aanpasbaarheid en ontvanklikheid geld nie net ten opsigte van metodologies-epistemologiese aspekte nie, maar ook ten opsigte van die gebruik van wetenskaplike metodes en tegnologie.

6 Augustus 2012